Skoukos vir Kokkedore

Loop en eet kan net so uitdagend soos loop en wyndrink wees. Maar dis nou waarmee die deelnemers in die tweede episode van Kokkedoor, die KykNet TV-reeks waarvan Du Toitskloof Wines die wynborg is, moes rekening hou. Ja, hulle moes kook vir Prins Albert se plaaslike landbouskou, met die klem op jafels – daardie ronde geroosterde broodjie-smaaklikhede – en die onontbeerlike boereworsrolletjie.

Sjef Nic van Wyk, een van die beoordelaars, het ook gewys hoe ’n volstruiskerrie “bunny-chow” gemaak word. Maar om hierdie homp kerrievleis-gevulde brood op ’n drafstap te eet is vir mors-soek. Om van die snaakse kyke nie te praat nie.

O ja, die pannekoek – ’n landbouskou sonder ’n pannekoek is soos ’n langarm-dans sonder ’n konsertina. Die deelnemers moes ’n soet pannekoek maak, en kykers wat nog in die warm weer van ’n laatsomer vasgevang is sou hoop die winter kom pronto, want ’n pannekoek bly darem ’n smul-heerlike ding.

Hier by Du Toitskloof hou ons van ons pannekoek eenvoudig: kaneelsuiker en ’n knerts suurlemoensap, baie dankie. Dis al. En dan sluk ons hom af met ons Rooi Muskadel, en jy’s soet agter die ore maar lekker bly lekker.

Met ’n boereworsrol kan mens ’n glasie rooiwyn geniet – Cabernet Sauvignon of Shiraz van Du Toitskloof is nommerpas. En as dit by die jafel kom, wat deur die Kokkedore met gekerriede volstruisvleis gevul is, stry ons hier by die kelder: is Chardonnay die regte wyn om hiermee saam te bedien, of hunker ons na die staatmaker Sauvignon Blanc?

Die Du Toitskloof-span het tydens die tweede aflewering van Kokkedoor net weer eens besef hoe geseënd ons in die wynbedryf is. Chris, een van die deelnemers, het laat weet hy eet nie volstruisvleis nie aangesien hy op ’n volstruisplaas grootgeword het en daardie vleis deesdae nie oor sy lippe kan forseer nie. Wel, ons wat op wynplase geskool is sit gelukkig nie met daardie probleem nie.

Toe uitstemtyd tydens gisteraand se episode aanbreek, wou-wou ’n paar van die deelnemers na die wynglas gryp om die senuwees te kalm. Gelukkig vir hulle het die beoordelaars besluit om niemand uit te stem nie.

Noem ons dit die stilte voor die storm?

Wag vir volgende week se Kokkedoor. Donderdagaande om 20:00. Kyk dit net op KykNet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s